homepage | bosparra telekom

Archive for the ‘Emil Jung’ Category

So ‘n bietjie balans.

Friday, July 18th, 2008

Howzit Emil…NOG ‘n kwaliteit post.

So ‘n bietjie balans – of net nog oogklappe vir ‘n pot wat stadig en stilletjies begin oorkook? Sal ons uitspring, parras? Emil gaan binnekort! The world is my oyster!

Suid Afrika gaan deur groei-pynne. Die ekonoom JP Landman reken dinge is nie regtig so erg nie. Ek hoop die meeste het na Rian op KykNet gekyk en sy gesprek met meneer Landman gevolg. Die man is beslis positief ingestel!

Maar mens moet jou eenvoudig die vraag afvra hoekom sentiment in die land so negatief is, en of dit geregverdig kan word. Hemels, ek self is binnekort ook land uit – die wat my blog volg sal reeds hiervan bewus wees. Ek noem Qatar as ons nuwe realiteit, en vra ook ‘n intense vraag aan my gereelde besoekers. Die wat wil, kan gerus gaan inloer en my help met julle idees. Ek sal die parra’s se insette waardeer.

(more…)

Braaivleis, sonskyn en … piophila casei

Thursday, July 3rd, 2008

Howzit Emil…

Braaivleis, sonskyn en … piophila casei (not for the fainthearted en hulle wat nog later ‘n tjoppie wil braai nie ;-)  )

Opgedra aan ‘n ou stryder, die legende, Ricky Louw

Gatvol reken mos ek moet so ‘n bietjie oor braaivleis skrywe.

Ek dink nie dit is ‘n sleg indee nie – mens kan altoos goed gatvol raak vir politiek, rassisme en morbiede onderwerpe soos doodstraf, genadedood en vuurvliegies :???:

En hemels, al reken mens aldag dit gaan in hierdie land uiters beroerd, dan is ‘n ou skaap tjoppie mos immers daar om ons vir sou ‘n paar uur van al die kak te laat vergeet. Wat is dan nou lekkerders as so ‘n smeulende, sissende tjoppie op ‘n oop rooister bo-op donker-warm kole?

‘n Mens kry opnuut warm waardering vir so ‘n tjoppie, veral as ‘n mens terugdink aan die bek-en-klouseer epidemie in Engeland en Kwazulu-Natal, toe die brandstapels van bees karkasse die horison rooi gekleur het soos ‘n ondergaande son. Al daai verlies!

(more…)

Doodstraf.

Friday, June 27th, 2008

Emil… ;-) Kwaliteit.Soos altyd.

Doodstraf – is ons dan beter as moordenaars?

‘n Moreel-eties filosofiese reaksie op Platkuif se post.

‘n Ou kennis van my blog oor die doodstraf. Verder gons dit ook deurentyd in die Suid Afrikaanse media oor hierdie komplekse aangeleentheid – loods gerus maar ‘n soektog op Google onder “doodstraf” en “death penalty”. En Platkuif het ook na aanleiding van ‘n skokkende storie ook aangevoer dat die doodstraf heringestel moet word. Dit is vandag inderdaad ‘n relevante kwessie.

Die onrusbarende hoë voorkoms van misdaad in Suid Afrika laat oral stemme vir die herinstelling van die doodstraf opklink. Daar is vanselfsprekend argumente aan baie kante van die debat, en daar is ‘n sterk kans dat Suid Afrikaners in die toekoms aan ‘n referendum hieroor kan deelneem. Maar die politiese konnotasies wat nog lank aan hierdie kwessie gekoppel gaan bly, sal heel moontlik verhoed dat hierdie referendum ten gunste van die doodstraf gaan uitdraai.

(more…)

Kuur vir rassisme.

Wednesday, June 25th, 2008

Welkom terug Emil…

Die klug van regstellende aksie – is individualisme die natuurlike alternatief?

Ek speel met ‘n paar gedagtes, brabbel ‘n paar sinne, en wonder of Ayn Rand nie tog reg het nie:

‘Individualism means emphasis on the individual. [It] is the view that, in social issues, the individual is the unit of value; this is a moral corollary of the principle that each man is an end in himself. Politically, as an expression of this approach, an individualist social system is one that upholds individual rights.”

Is dit tans die Suid Afrikaanse samelewing, met sy omgekeerde rassisme in ‘n beleid soos regstellende aksie, waar die moraliteit bepaal dat sekere regte bo dié van ‘n individu geplaas word, aan die orde van die dag is?

Dat die kuur vir rassisme die verkondiging en bevordering van rasse- en etniese diversiteit in organisasies, universiteite en regeringsintellings is, is so alledaags dat dit as ‘n feitlike aksioom beskou word.

(more…)

Joernaal inskrywing…iewers

Thursday, June 19th, 2008

Gedog ek het vergeet ;-) Hoop jy enjoy nog jou Afrika break Emil!

Joernaal inskrywing … iewers

Vandag, sweterig van die bedompige hitte, geanker op die boot net buite Houtbaai se hawe, swem ‘n jong meisie verby, onderweg na ‘n ander boot 10 meter van ons af. Sy swem sterk, doelgerig. Sy stop vir ‘n oomblik toe sy my seun se opgewonde krete hoor, en waai vir hom. Ons oë ontmoet vluggies - ons ken mekaar.

Ek gryp dadelik my Blackberry en skryf tot nou, herroep gedagtes en belewenisse van my reise deur die wêreld. En ek is opnuut dankbaar vir die voorreg om menslikheid met ander te kan deel.

‘n Jong, angstige besigheidsman help my een yskoue wintersoggend om my weg in Berlyn te vind. Hy het ‘n hele paar kilometers van sy normale roete afgewyk net om my by die korrekte treinstasie van die S-Bahn af te laai. In die kort tydjie saam wissel ons skaars ‘n woord. Behalwe vir die kort verduideliking in ‘n sterk Bavariese Duiste aksent waar ek moet oorstap na die ondergrondse U-Bahn, het ons niks gepraat nie. Toe hy wegry, ry ‘n gedeelte van myself saam.

(more…)

Can we change…

Thursday, June 12th, 2008

Better late than never… ;-)

“If only you can understand what they are saying …”
Gormendizer is correct – there are still racists among us. Hard to believe!
Can we change?

Hierdie lyk na ‘n tema wat in Suid Afrika ons nog lank gaan bybly – daai een van ras. Die feit dat ‘n 16-jarige na ‘n mede-speler as ‘n “kaffir” kan verwys, is ‘n sterk aanduiding dat ‘n lang pad nog voorlê tot die bou van ‘n verdraagsame en beleefde samelewing.

Die sintese wat ek hieronder verdiskonteer, poog om ‘n perspektief op die ontstaan van rassisme te bied, en wat ons moontlik kan doen om daardie sosiale euwel uit te roei. Bosparra is oorwegend Afrikaans – please bear with me with this post – ek wil dat nie-Afrikaansprekendes dit ook verstaan.

Let daarop, mede-parras, dat ek hier na rassisme in die algemeen verwys nie, alhoewel ek meestal voorbeelde uit my eie verwysingsraamwerk gebruik – wat natuurlik Afrikaans is. Ek wil dit baie duidelik stel: die voorkoms van rassisme is nie ‘n unieke verskynsel onder sommige Afrikaners nie – dit het die onlangse xenofobiese gewels duidelik uit gewys.

(more…)

Moet ons genadedood goedkeur?

Thursday, May 29th, 2008

Welkom terug Emil…

Na aanleiding van ‘n gesprek oor twee met Blixer en Leon. Niks oor xenofobiese geweld, seks, vuurvliegies of die kloning van Eva Longoria nie. Maar ‘n morele kwessie nietemin. Dalk pas dit wel binne ‘n teorie van evolusie.
Meeste mense is seker bekend met die Chantal Sebire van Plombieres-les-Dijon in Frankryk. Sy is die dame wat aan ‘n seldsame kanker (esthesioneuroblastoma) gelei het. Vanweë ‘n kwaadaardige gewas in haar gesig het sy uiteindelik bind geword en ook haar smaak- en reuksintuie verloor. Gevolglik het sy in enorme pyn verkeer, maar kon geen medikasie, spesifiek morfien, gebruik as gevolg van die newe-effekte nie, want blykbaar nog meer ondraagliker was as haar bestaand siekte. Haar verskeie aansoeke om genadedood is deurentyd deur die Franse owerhede geweier. Ironies, in die buurlande van België en Nederland is genadedood wettig. Sy is uiteindelik op 20 Maart dood aangetref, maar daar bestaan nog geen uitsluitsel oor die oorsaak nie. Soek haar maar op die Internet.

(more…)

Kloning en stamselle – hoekom dan nou nie?

Wednesday, May 21st, 2008

Emil… ;-)

Onthou Dolly, die eerste lewende wese wat gekloon is – uit ‘n borsklier (vandaar die naam Dolly, soos in Dolly Parton)? Ok, intussen is die skapie aan longkanker (jaagsiekte) dood, ‘n siekte algemeen onder Finn Dorset ras; daarom geen direkte verband met die feit dat sy ‘n kloon was nie. Sy het 6 lammers gelewer – heeltemal normaal.


(more…)

Uit die donker put – a momentary lapse of reason

Wednesday, May 14th, 2008

En dit is weer tyd vir Emil…’n ietsie ‘anders’ vandag…impressive.

Waarkuwing: 16 VL

Disclaimer: die skrywer kan nie verantwoordelik gehou word vir uitdrukkings onder die invloed nie.

Joernaalinskrywing 9 Mei 2008:

Langehoven ken hierdie toestand goed. Aangeklam … beskonke … besope …warm … dronk. Al daai mooi woorde wat jy in die woordeboek kry vir “gesuip.” Maar ek is nie vandag lus vir fokken mooi woorde nie.

Ek is hier diep in die donker put van my psige, op my leerbank, met ‘n bottel Pinot Noir. Buite val die donnerse reën weer. Maar ek wil nou hier wees – ek wil hierdie armsalige misnoeë omhels, daai melankoliese wintersgevoel. Verduiwels, ek wil nou my donker kant engage en wys ek’s mens, sonder enige verskonings.

Op hierdie oomblik gee ek nie om nie – noem dit intoxication, a moment of madness – a crime of passion – temporary insanity, of a momentary lapse of reason, die Pink Floyd manier.

(more…)

Ditte en Datjies oor Seks, of stukkies en brokkies wat ek eendag seker met oorleg aan my laaitie moet vertel

Wednesday, May 7th, 2008

Yip,weer tyd vir Emil ;-) Ekself het nou eers opgemerk dat ’seks’ nogal sterk feature die afgelope tyd op Bosparra…was nie ‘opsetlik’ nie…die bloggers ‘post’ onafhanklik van mekaar…dalk is hulle ‘telapaties verbind’ gewees die week…die enigste blogger wat nie seks as ‘n (sub) onderwerp gehad het die week…was Roer ;-)

(more…)

‘n Fabel uit Parraland…

Tuesday, May 6th, 2008

En hier is Emil se beloofde ‘fabel’….oulik ;-)

Op ‘n klein klip, in die middel van die Bosparra  Dam, sit daar twee paddas.
Die water in die dam is opmerklik minder as die vorige jare. Almal in Parraland is van die knaende droogte bewus. Die twee paddas ook.
Hulle sit daar op die klein klip, hulle oë glimmend in die maanlig. Die bietjie water wat nog in die dam oor is, hou hulle net-net klam en koel soos dit oor hulle blink lyfies spoel. Die twee groen en slymmerige lywe is doeltreffend onder die dun lagie water versteek. Kort-kort baar die water klein rimpeltjies wat wyer en wyer uitkring soos die twee eentonige op-en-af asem haal. Die klein brandertjies spoel teen die damwal uit, verdwyn as dit die einde van die waterrand bereik.

(more…)

Oor verlede Woensdag, Biologie, Sokrates se dood, naaste liefde en die meisie in die wieveld.

Wednesday, April 30th, 2008

Hy is terug…na ‘n baie WARM verwelkoming laasweek…Emil Jung…Sterkte ou maat ;-)

Biologie klasse in die vroeë skooljare het gehandel oor stampers en meeldrade, die lewensiklus van muskiete – en oor die ingewande van ‘n padda, versmoor met chloroform en in was gekruisig as die laboratorium se weergawe van ‘n geroosterde gereg. Daai padda het ikoniese gestalte aangeneem – wanneer die wit pens oopgesny is, kon ons sien hoe sy hartjie nog angstig klop – en die meise langs my met die blonde, Pippie Langkous-lokke het dadelik flou geval. Dit het my opgeval hoe die onsigbare mag van simpatie ons beroof het van ons gewete, saam met die skoonheid van die klein amfibiese gedierte se ingewande, met hulle delikate skynsels en miniatuur molligheid. Wat ons veel eerder moes laat flou val het, is die merkwaardige, magtige en kontroversiele avonture waarmee die biologiese wetenskap reeds in daai tyd besig was – die allerbelangrike Menslike Genome Projek (The Human Genome Project). Gaan besoek dit gerus – in ‘n eksotiese kulminasie van my genetiese argumente van verlede week, is dit wetenskaplik bewys dat mense geneties nader aan mekaar verwant is as wat aapspesies aan mekaar is. Menslike verskille soos die vorm van oë, lippe en vel pigment word inderdaad as oppervlakkige differensiasie beskou.

(more…)

Vuurvlieg.

Wednesday, April 23rd, 2008

Emil Jung

Gaan na die vuurvliegie, jou stommerik: ons is eintlik almal amper eenders!
Opgedra aan Lalaland, wat reken ek moet ‘n boek skryf – fanks, jy’s ‘n lady!

Ek gaan in die sop wees en op my bas kry omdat ek moontlik op ‘n paar tone gaan trap. Maar waaroor ek nou gaan skryf is vir my ‘n steen des aanstoots. Mense mag natuurlik verskil. My ysterkloue is in die grond geslaan.
Ek voel telke maal dat ek deur die smeltkroes gaan as ek sommige parra’s se kommentaar oor ons land lees, maar meestal voel ek soos ‘n vis op droë grond – en dit tussen my eie mense. En vir hierdie rede: dit gaan my begrip te bowe hoekom so baie blanke Suid Afrikaners steeds glo hulle is ‘n super-ras, superieur teenoor ander kulture, en ook totaal onverdraagsaam met ander wat van hulle verskil (ook mede-blankes). Andiqondi – ek verstaan nie. Lees maar enige post in parraland oor Afrika en jy sien hoe die overdraagsaamheid, onbegrip en soms blatante rassisme van ‘n paar parra’s met mening uit die gate kruip. Maar dit raak ook godsdiens, die stryd tussen die militante ateiste en naiwe fundamentaliste – lees maar die vloei van dinge by 60 000, en selfs wanneer ‘n gas soos Janine optree. Ndiva into embi, maar ek verstaan regtig nie hoekom mense so onverdraagsaam teenoor ander is nie.

(more…)

Sal die ware, nie-middelmatige leiers tog asseblief opstaan!

Thursday, April 17th, 2008

Baie welkom aan Emil Jung…Hy gaan die ‘vloer open’ vir die Bosparra Blog initiatief. Dankie vir jou bereidwilligheid Emil…ons lees graag

Bedmaats...

Ek lees in vandag se Cape Times (16 Aptil 2008) dat die ANC leierskap uiteindelik in die openbaar wil bekendmaak dat Zimbabwe nou ‘n “krisis” is. Dit nogals lynreg teenoor Pres Mbeki se uitlatings dat hy, na sy hande-vashou en broek-skuur besoek by Mugabe meen daar is dan geen sodanige krisis nie – en, tipiese die hardkoppige karakter wat hy is, eenstryk-deur voortgaan met sy verspotte en inkrimineerde beleid van stille diplomasie.

Baie Afrika-leiers het in die era van onafhanklikheid hard gestoei om hulle kontinent van koloniale beheer te bevry – om dit maar net weer van vooraf leeg te plunder. Met totale minagting vir sy eie mense en heel moontlik op pad na ‘n bloedbad, het Mugabe slinks te werk gegaan om sy nasie nog armer te maak as wat hulle was tydens die koloniale era. Stel jou voor: ‘n inflasiekoers van 100 000%!

Terwyl autokrate steeds in beheer is van Sudan en Equatorial Guinea, sien ek Mugabe as die laaste van ‘n ou garde eertydse vryheidsvegters, en druk sommer Mbeki saam in hierdie blik. Ek glo beide se heengaan of aftrede of uitverkiesing sal tot Afrika se voordeel wees. Die kontinent is besig om ‘n nuwe era binne te tree, gekarakteriseer deur demokrasie, vrede, robuste ekonomiese groei en, belangriker nog, ‘n jonger generasie van bevoegde leiers soos Liberië se Ellen Johnson-Sirleaf.

Suid-Afrika – jammerlik – onder Mbeki is soos Chinua Achebe in The Trouble with Nigeria skryf:

We have displayed a consistent inclination since we assumed management of our own affairs to opt for mediocrity and compromise, to pick a third and fourth eleven to play for us.

Ek onthou ook Ferial Haffajee, redakteur van Mail & Guardian, waar sy reeds in 2007 ‘n artikel geskryf het as weeklaag teen die …

… cult of mediocrity that we have come to accept from out leaders across the private, public and civil society sectors … I wager that if our freedom was in the hands of the present crop of leaders we’d still be bickering at Kempton Park … There are noticeable exceptions, but the cream has not risen to the top in the new millennium.

Suid-Afrika en Zimbabwe, en dan ook nog Kenia en Sudan en oorals waar drakoniese fasiste en despote die kontinent verwurg verdien die tipe leierskap wat Afrika kan transformeer tot iets beter.

Hierdie is mense wat ‘n gevoel van Hoop kan skep, wat nooit sal vergeet dat hulle Menslik is nie, wat met diepgegronde Nederigheid hulle oorwinnings vier, want nederigheid is naby aan menslikheid in dié dat nederigheid gewortel is in ‘n akkurate self-persepsie – iets wat beide Mbeki en Mugabe nie het nie!

Waar is die leiers?

Suid-Afrika het ‘n behoefte aan sterk leierskap, wat verby die boustene van die verlede kan kyk en nuwes kan giet, leiers wat nie skroom om die sosio-eknomiese situasie daadwerklik aan te spreek nie en wie beslis nie wegskram om korrupsie en misdaad met ‘n eenheid soos die Scorpions uit te roei nie.

Suid Afrika het nie sulke mense nie.